Sosiale Skakels

Besoekers

We have 1 guest online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Tuesday, 13 June 2017 07:54

Handelinge 21:12 - 14 Ons roeping kan ons veiligheid en selfs ons lewe kos.

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  HAND 20:17 – 24 EN HAND 21:1 – 16                                                                     TEKS: HAND 21:12 – 14                                                                                                                         

TEMA:  ONS ROEPING KAN ONS VEILIGHEID EN SELFS ONS LEWE KOS

Ons sê baie maklik:     Ek dien die Here .....  of

Ek het my hart vir die Here gegee.

Verstaan ek en jy wat dit behels? 

Ons sing graag Psalm 40:4

Ek bied u hart en hande                                                                                                                in will’ge offerande -                                                                                                             al wat ek is en het .....

Maar broeder en suster, verstaan ons regtig wat presies op die spel is? .......... Begryp ons regtig wat dit kos om die Here te dien? .......     Sê nou die Here vra vir ons ons veiligheid  ......  Hier in ons onveilige Suid Afrika?                                                            

Om ‘n navolger van ons Here Jesus te wees kan baie opoffering verg.  Dit kan selfs jou en my ons lewe kos! .................

As ons gewoonweg oor ons geloof in die Here Jesus dink, het ons ‘n bepaalde verwagting. 

1.       ONS VERWAGTING IS DAT DIE HERE ONS SAL VERSORG EN BEWAAR

Ons luister baie graag na ‘n preek wat oor die Here se liefde handel.  Dit is mos vir ons wonderlik om te hoor hoe lief Hy ons het en dat Hy selfs sy eie Seun aan die kruis laat sterf om ons te red.

Verder bid ons ook gereeld dat Hy ons sal bewaar. Ons vra verder ook graag dat Hy ons sal op ons lewenspad sal lei. 

Die algemene gevoel by ons as gelowiges is dikwels:  Omdat die ons ‘n liefdevolle hemelse Vader dien, sal Hy sy liefde aan my gee.  En dan dink ons in terme van voorspoed en geluk. 

Daarom lees ons mos graag Psalm 23:

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is......                    

En dan ........

Selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig....

Maar broeder en suster wat gebeur as die Here dalk meer van ons verwag?  Wat gebeur as Hy verwag dat ons vir Hom moet ly?

Volgens die gedeelte wat ons vanoggend in die Woord saam gelees het, was die apostel Paulus op besig met sy derde sendingreis.  Hy het waarskynlik ook, soos meeste van ons, Psalm 23 uit sy kop geken.  Hy het geweet dat die Here sy herder is en daarom was hy  seker ook bely nie bang om deur donker dieptes te gaan nie.

Kom ons kyk wat beteken dit regtig om deur donker dieptes te gaan? 

2.       DIE HERE OPENBAAR AAN ONS DAT ONS ‘N HOËR ROEPING HET

Tydens hierdie derde- en laaste sendingreis het Paulus herhaaldelik die boodskap gekry dat hy  ‘n hoër roeping het.  En hierdie hoër roeping het vir Paulus lyding beteken.  Hy het herhaaldelik die een boodskap gekry en dit was dat hy in Jerusalem gevange geneem sou word. 

Ons het in Hfst. 20:22 en 23 gelees hoe hyself sê:

En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.

Telkens lees ‘n mens ook hoe sy medegelowiges tydens die reis hom probeer oorreed om nie Jerusalem toe te gaan nie.

In hfst. 21:4 staan dat Paulus in Tirus aan wal gegaan het en dan skryf Lukas:

Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae by hulle gebly.  Deur die Gees gelei, het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie.

Toe Paulus en sy reisgenote in Sesarea aankom het hulle by Filippus en sy vier dogters, wat profetiese gawes gehad het, oorgebly. Daar het toe ‘n profeet met die naam Agabus aangekom en Paulus se gordel gebruik om sy eie hande en voete vas te bind. So, het hy gesê, gaan Paulus deur die Jode in Jerusalem vasgebind word en aan die heidene uitgelewer word.

Net daar het Lukas, Timoteus en Silvanus asook hulle gasheer Filippus vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie. Sy veiligheid was vir hulle te belangrik.  Maar dan kom Paulus met ‘n skokkende antwoord:

Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Terwille van die Naam van die Here Jesus  is ek bereid om in Jerusalem  nie net gevange geneem te word nie, maar selfs ook om te sterwe. (Vers 13)

Paulus is oortuig dat op hierdie pad wat die Here hom lei, daar nie omdraai kans is nie.  Hy het immers by herhaling die baie duidelike boodskap gekry dat hy in Jerusalem moes gaan ly  ......    Hy het geweet wat vir hom voorlê!

Hierin was Paulus natuurlik ‘n getroue navolger van sy Here Jesus self.  Die nag toe Judas Hom verraai het en Hy gevange geneem is, het die Here Jesus as mens daar in die tuin van Getsemane in sy eie donker dieptes geworstel.  Hy het sy eie lydensweg na die kruis en ook aan die kruis voor hom gesien.  Met  sweet wat soos bloeddruppels op die grond val, het Hy gebid:

My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie,  maar soos U wil. (Matt 26:39)

Broeder en suster, ek en jy is navolgers van die Here Jesus en

3.       ONS IS GEROEP OM CHRISTUS TE VOLG AL BEDREIG DIT ONS VEILIGHEID

Vir die apostel Paulus was nóg sy eie wil, nóg die van sy medegelowiges, deurslaggewend.  

Hy het, net soos die Here Jesus verseker geweet wat vir hom voorlê. Met vasberadenheid het hy egter op sy pad na Jerusalem en na dit wat daar vir hom wag volhard.

Paulus se medereisigers sowel as die gelowiges wat hulle op hulle reis ontmoet het, het almal probeer om hom te oortuig om nie na Jerusalem  te gaan nie.

In die proses oortuig hy sy medegelowiges van sy roeping.

Kom ons lees weer wat Lukas in vers 14 sê:

Toe ons hom nie oorreed kon kry nie, het ons daarin berus en gesê: Laat die wil van die Here geskied.

Vir Paulus is die navolging van Christus prioriteit nommer een –  Ja, al kos dit sy lewe!

As ‘n mens lees wat Paulus later, toe hy in die gevangenis was, aan die gemeente in Filippi skryf, sien jy nog duideliker hoe getrou die man op sy geloofspad volhard het.   Luister wat skryf hy:

.... wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Jesus my Here te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het el alles prys gegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry .....

En dan sê hy verder:

Al wat ek wens is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.    (Vgl. Fil. 3:7 – 11)

Nou is die vraag:  Hoe sien ek en jy ons Christenskap?

Of beter gestel:  Hoe sien ek en jy ons roeping?

Om Christen te wees beteken nie dat jy gereeld ‘n spesiale gevoel van ekstase sal ervaar en dan byna in ‘n soort beswyming en meegevoer word nie.  Nee, Christenskap het met die harde werklikheid van jou lewe elke dag te doen.

Ons Christenskap het te doen met ons reaksie op ons lewe van dag tot dag. Wanneer dit goed gaan, jy gesond is en jy al die liefde en genade beleef. Dan is jy dankbaar. ..... 

Maar dan is daar dae wat die swaarkry soos ‘n donker wolk op jou kom toesak.  Iemand naby aan jou word baie siek. Meteens staan jy by ‘n sterfbed. Jy beleef ‘n plaasaanval of huisroof. Jy motor word gesteel.  Of nog erger ..... soos die apostel Paulus word jy gevang en beland in die tronk.  Of jy word, soos baie Christene in heidenlande gevang, gemartel en kan selfs doodgemaak word .... net omdat jy ‘n Christen is.

Ek en jy sing graag saam met Dawid in Psalm 23 dat die Here ons Herder is en dat Hy ons lei na groen weivelde en waters waar daar rus is ......  Maar is ek en jy regtig bereid om ook saam met die Here deur die donker dieptes te gaan? 

Is ek en jy regtig bereid om ons lewe vir die Here op die altaar te plaas?  Sien ons daarvoor kans ter wille van die Here Jesus ook ons veiligheid op die spel te plaas?   

Vandag klink dit dalk  vir ons na ‘n moeilike keuse, maar luister wat het die Here Jesus eendag vir sy dissipels gesê:

Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.(Matt 10:19 & 20)

SLOT

Ons maak soms die fout om te dink dat ons Christenskap veronderstel is om vir ons voorspoed en geluk te waarborg. 

Dit is allermins die geval. .......   Ons Christenskap beteken dat ons navolgers van Christus sal wees en dan moet ek en jy bereid wees om soos die apostel Paulus vir Christus te volg .... selfs al beteken dit lyding en vervolging en selfs ons lewe.

Christenskap beteken om voluit vir Christus te lewe ....... en te sterwe!

                                                                                                  AMEN

Read 1730 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek