Sosiale Skakels

Besoekers

We have 1 guest online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Preke

Preke (201)

SKRIFLESING:  1 Kor. 15:1 – 19

TEKS: 1 Kor. 15:12 en 19  HK Son 17

LEWE VANUIT DIE OPSTANDING VAN CHRISTUS

Ons belydenis vra vandag ’n diep ontledende vraag:

                Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Dit is ‘n baie relevante vraag in ons moderne lewe. Ons is op die resultaat ingestel. Jy doen nie sommer iets as dit nie vir jou waarde het of voordeel inhou nie.

Nou is die vraag:  Wat beteken Christus se opstanding vir ‘n mens? Ja, watter waarde het dit vir jou in jou daaglikse bestaan?

Om vanuit die opstanding van Christus te lewe beteken:

                ONS LEWE MET ‘N VRAAG

                ONS LEWE MET ‘N SEEN

                ONS LEWE MET ‘N BELOFTE

  1. LEWE MET ‘N VRAAG.

Die stelling of belydenis:  “Jesus Christus het opgestaan uit die dood” is vir sommige mense die duidelike bewys dat Hy die Seun van God is, terwyl dit vir ander mense die bewys is dat Christene in sprokies glo.  Vir die een is hierdie belydenis die kragbron van die kerk en vir die ander is dit veel eerder ‘n bewys van die wêreldvreemdheid van die kerk.  Die een sê:  “Ek vind die verhale van die opstanding van Christus baie onbetroubaar”, die ander een sê: “Ek bou my hele toekoms op die feit dat Hy uit die dood opgestaan het”.

Dat ‘n mens wél uit die dood kan opstaan, is uiteraard vir die moderne mens totaal onaanvaarbaar. Die heersende geagte is: “Dood is dood en lewe, is lewe”.  Mense wat nie in Christus glo nie meen sy opstanding uit die dood is onmoontlik.  Hulle voel dat ’n mens tog seker nie in ons moderne tyd so ’n eienaardige sprokie meer kan glo nie. Mense sê dit vandag en hulle het dit in Paulus se tyd ook gesê. Toe hy in Athene op die stadsplein met die Griekse wysgere oor die Here Jesus Christus gepraat het, het hulle alles aanvaar tot hy by die opstanding gekom het.  Ons lees in Handelinge 17:32:

Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê:     Ons sal jou weer hieroor wil hoor.

Nou is daar natuurlik ‘n ander geldige vraag:

Waarom het die Here Jesus na sy opstanding net aan sy volgelinge verskyn? Sou dit nie meer impak kon hê as hy aan die lede van die Joodse raad of aan iemand soos die Romeinse regter Pontius Pilatus verskyn het nie?

Die mense wat vir sy kruisdood verantwoordelik was, het juis allerhande planne gemaak om die feit van die leë graf te verdoesel. Hulle het die wagte ‘n som geld betaal om ‘n leuen te versprei dat sy dissipels sy liggaam gesteel het.

Die ongelowige mens sal nooit aanvaar dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het nie. Daar sal altyd ander verklarings of leuens gebruik word om dit te ontken.  Die Heidelbergse Kategismus gaan daarom nie in op die bewyse van die opstanding nie, maar konsentreer liewer op die nut of waarde van die opstanding. Bowendien, al sou van die Jode of Romeine destyds daar in Jerusalem wel van sy opstanding oortuig word, beteken die oortuiging van die feit van die opstanding nog nie geloof in die hart nie.

Die feit dat Hy vir jou en my sonde aan die kruis gehang het en in ons plek die straf gedra het, sou niks beteken het as Hy daarna net in die graf dood sou bly nie.  ....... ‘n Dooie verlosser is geen verlosser!

Hy het opgestaan. Dit het Hy wel met sy verskynings bevestig,  maar het jy opgemerk? Diegene wat Hom so na sy opstanding teëgekom het,  het Hom nie sommer dadelik herken nie.  Die Emmausgangers het  hom eers herken nadat Hy hulle uit die Skrif onderrig het.  Hulle moes eers die vervulling van die profesieë in sy sterwe sien voordat hulle in die opstanding die evangelie kon hoor.

Die punt is, broeders en suster, elkeen wat vanuit Christus wil lewe, moet aanhou om die Skrif te lees en bestudeer. Hou aan om na die evangelie te luister.  Doen dit soveel moontlik saam met jou mede-gelowiges.

Om as Christen te lewe, beteken om met ‘n vraag te lewe. Die vraag is:

                Glo ek in Jesus Christus wat die dood oorwin het?

As ek dit van harte glo, sal ek iets besonders ervaar, naamlik 

2. LEWE MET ’N SEËN

Ons belydenis sê:

                Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ’n nuwe lewe opgewek.

’n Mens hoor hier twee woorde wat ’n geweldige verskil in jou lewe maak, naamlik KRAG en NUWE LEWE.

Ons wat glo dat ons Here jesus Christus uit die doop opgestaan het, ervaar daagliks sy lewenskrag en energie.  Met hierdie kragtige werking van die Gees word ons lewe ’n nuwe ervaring.

Daar is mense wat beweer dat jou lewenskwaliteit tot ’n groot mate deur drie dinge bepaal word naamlik jou afstamming, jou omgewing en jou opvoeding. Volgens die gedagte sal iemand met ’n ongelukkige jeug altyd swaar kry. Iemand wat in vroeer misbruik is, sal altyd die gevolge daarvan dra en iemand wat in sy jeug verkeerde vriende het sal aanhou om op die slegte pad te loop. Die pessimiste sê: Alles wat ’n mens doen word bepaal deur jou verlede.

Die evangelie van Jesus Christus breek egter hierdie negatiewe en pessimistiese lewensbenadering.  Die nuwe lewe in Christus stel jou in staat om met jou verlede en jou negatiewe omstandighede te breek.  Ja, mens het ’n verlede en daar is dinge waaraan jyself niks kan verander nie.  Onder die kragtige vernuwende werking van die Heilige Gees kry ’n mens ook nuwe perspektief.

  • Die apostel Paulus was ’n vervolger van die kerk, deur die krag van die opgestane Christus word hy ’n kerkplanter.
  • Maria Magdalena was van sewe duiwels besete. Onde leiding van die Heilige Gees word sy ’n kragtige getuie van die Here.
  • Matteus was ‘n tollenaar. Die Heilige Gees maak hom ‘n evangelieskrywer.

Elkeen wat deur middel van ‘n ware geloof saam met Christus in ‘n nuwe lewe opstaan, beleef nuwe lewensmoontlikhede.  Natuurlik nie op grond van eie krag nie, maar wel op grond van die krag van Christus wat deur die werking van die Heilige Gees aan jou nuwe energie gee. 

Natuurlik is hierdie lewe nooit volmaak nie. Daar sal altyd nog teëslae kom en spanning sal oplaai. Daar sal altyd laste wees wat ek en jy saamdra, want ons lewe in ‘n gebroke wêreld.  Ons verlede, of ons omstandighede het egter nie die laaste s nie.

Omdat ek en jy onder die kragtige leiding van die Heilige Gees met ‘n ware geloof aan die opgestane Here Jesus Christus vashou, is ons oorwinnaars.  Saam met Hom skeur jy jou los van alles wat jou terughou en vaskeer. Onder leiding van die Heilige Gees verstaan jy dat dit nie jou verlede of jou huidige omstandighede is wat jou toekoms bepaal nie, maar wel die Here Jesus wat die dood oorwin het.  Hy het die vloek van die sonde en die dood verbreek. Hy is ons lewende Verlosser.  Hy stel jou en my deur sy Gees in staat om meer as ‘n oorwinnaar te wees!

Ons wat in Jesus Christus glo wat uit die dood opgestaan het, ervaar nou daagliks sy lewenskrag en energie.  

Broeder en suster. Hier is die verskil tussen die ou- en die nuwe lewe.  In en deur ons Here Jesus Christus kry ons lewe sin en betekenis. Sy krag en nuwe lewe dring en dryf ons tot liefde en diensbaarheid in sy koninkryk.

Maar daar is nog meer.  Ons lewe nie net vir hier en nou nie. Ons lewe met die oog op die toekoms.  Die lewe saam met die opgestande Here jesus Christus is ‘n

 

3. LEWE MET ’N BELOFTE

Stel jouself net vir ’n oomblik voor watter opspraakwekkende berig dit sou wees as daar vanoggend op die koerante se voorblaaie ’n berig was wat swas wat sê: DIE DOOD IS OORWIN.  En dan lees jy hoe wetenskaplikes in ’n laboratorium ’n muis wat twee ure lank dood was, weer lewend gemaak het.  Daar het nog nooit so ’n berig verskyn nie, maar u stem saam dat dit opspraakwekkend sou wees, want mense probeer alles om lewe te verleng en die dood teë te werk.

Die dood is oorwin!    Die berig word elke Sondag hier in die kerkgebou uitgesaai. Dit word egter nie as opspraakwekkend ervaar nie. Ongelowiges spot selfs daarmee.

Maar broeder en suster. Dink mooi ......

Ons elkeen wat in die Here Jesus glo, het voluit deel aan hierdie oorwinning oor die dood.  Ek en jy het die lewe. ..... Die ewige lewe.

Toe die Here Jesus op aarde was, het Hy ’n paar keer gewys dat Hy mag oor die dood het. Hy het sowel die dogtertjie van Jairus as sy vriend Lasarus uit die dood opgewek. Hulle het egter later weer gesterf.

Ons moet verstaan: Die Here Jesus se verlossingswerk is groter as net ons lewe hier op aarde. Die lewe hier is net tydelik. Die lewe hier is onvolmaak.

Daarom sê die apostel Paulus:

As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Dit is die probleem met die sogenaamde voorspoedsteologie wat van Amerika af hierheen oorwaai. Hierdie mense verkondig dat Jesus alles wat hier en nou in jou lewe verkeerd is, sal regmaak.  Hulle sê: As jy siek is, bid net en Hy maak jou gesond. As jy nie geld het nie, bid net en Hy gee vir jou geld. As jy jou werk verloor, bid net en jy het werk.  Hulle verkondig ’n selfgemaakte afgod wat soos die “genie”in die storie van Alladin alles reg toor. 

Toe die Here Jesus Self aan die kruis gesterf het en begrawe is, het Hy op die derde dag uit die dood opgestaan. Toe het Hy die dood finaal oorwin.

En Hy het belowe:

Ek gaan om vir julle plek gereed te maak.  En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.  (Joh 14:3)

Ons is saam met die Here Jesus Christus op pad na ons ewige bestemming.Daarom is ons op hierdie aarde, in die woorde van die apostel Petrus,  net vreemdelinge en bywoners. Ons is reisigers na ons ewige bestemming.

Ons is reisigers met  ’n opdrag:

Op ons reis het ons ’n baie belangrike taak. Ons moet die lig van die evangelie uitstraal. Ons moet die waarheid van die evangelie verkondig en ons moet die liefde van die Here prakties toepas.

 

SLOT

Die nut van die Here Jesus Christus se opstandig vir ons is ’n nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees. Dit verseker ons van ’n sinvolle lewe en waarborg vir ons ’n wonderlike toekoms in die ewige vaderhuis.

                                                                                                      AMEN.

<< Start < Prev 1 2 3 4 Next > End >>
Page 1 of 4

Soek